Wat maak jou troeteldier vet? Onder andere plantproteien.
Marianke Saayman
Dit is nie van te veel eet dat jou hond vet is nie, maar eerder van verkeerd eet. Volgens dr. Douw van der Nest, veearts by Potch Centraal Veeartse is die hoofrede van troeteldier-obesiteit verkeerde voeding en nie die volume nie. “Dit gaan nie oor hoe baie hulle eet nie, dit gaan oor wat hulle eet,” sê hy.
Oktober is troeteldier obesiteitsmaand en aangesien obesiteit net so ‘n groot probleem by troeteldiere as by mense geword het, is dit belangrik dat troeteldiereienaars hul troeteldiere se gewig moet dophou. Troeteldier-obesiteit is ’n landwye probleem, en dr. Van der Nest sê dat sowat ’n derde van die honde in Potchefstroom oorgewig is. Sowat 5% van die honde wat na Potch Centraal veeartse gebring word, is siek weens gewrigsprobleme. Vet katte is ook volgens dr. Van der Nest 'n groot probleem.
Oorgewig troeteldiere kan verskeie gesondheidsrisiko’s ervaar, waarvan die mees algemene probleme, gewrigsprobleme in die knieë, kruisbandligament-verrekking, patella-luksasies en baie algemeen, heupdisplasie is.
Navorsing toon dat obesiteit ook kan lei tot diabetes, artritis, urinêre toestande, velprobleme, hartsiekte en selfs kanker, wat jou troeteldier se lewensverwagting aansienlik baie kan verkort.
'n Groot aantal van ouer honde en katte het artritis, maar dit kan vermei word as jou troeteldier die regte kos eet en 'n gesonde gewig is.
’n Studie in 2012 het getoon dat vet honde nie vrolik is nie – hulle ervaar meer pyn en “emosionele stoornisse”.
Sekere honderasse is meer geneig tot obesiteit as ander. ’n Voorbeeld hiervan is labrador retrievers, aangesien hulle oorspronklik geteel is om saam met die visserbote uit te gaan en in koue water te swem, daarom isoleer hulle hulself. “So enige kos wat hulle inneem is geneig om in vet te verander,” sê dr. Van der Nest.
Om te bepaal of jou troeteldier oorgewig is, is maklik, voel net die ribbes. “As jy nie die ribbes kan voel nie, is daar ’n vetlaag tussen die vel en die ribbes en dan is jou hond oorgewig,” sê dr. Van der Nest. Jou hond se middel moet ook sigbaar wees. Die maag en die ribbes moet nie ewe breed wees nie, want dan is jou hond ook oorgewig.
As jy vasgestel het dat jou troeteldier oorgewig is, moet jy jou troeteldier se dieet verander en omsien na die artritis wat moontlik deur obesiteit veroorsaak is. “Meeste mense kan net begin deur vir hul troeteldier dieetkos wat 'n hond se metabolisme verander te koop,” sê dr. Van der Nest.
Om met jou hond te gaan stap is ook goed vir sy gesondheid. Twee keer per dag stap vir kort afstande is noodsaaklik vir gewigsverlies, tesame met die regte kos. Honde en katte is karnivore wat eintlik kort afstande hardloop. Draf is nie so ideaal vir karnivore nie. “Stap is goed en help die metabolisme, maar jy gaan nie ’n vet hond maer gestap kry nie,” sê hy, " 'n dieetkos is noodsaaklik.".
Hy sê baie van die goedkoper hondekos bevat niks vleis nie. “Honde en katte is karnivore, hulle kan nie gesond leef van plantproteïen en vet nie. Hierdie goedkoper kosse is geneig om lekker te wees a.g.v. baie vet en sout, maar dit maak jou hond vet, maak nie saak hoe min jy jou hond daarvan voer nie.”
Dr. Van der Nest sê as eienaars onseker is oor of hulle die regte kos vir hul troeteldiere voer, moet hulle eerder hul veearts vra vir advies.
Artikel krediet: Hierdie artikel van Potchefstroom Herald.
is eerste gepubliseer op 27 Oktober deur die