Bene kou veroorsaak konstipasie, tandwortel-abses, versmoring, obstruksie, tandfrakture ens.

Drawing showing tooth abscess
Drawing credit: Hill’s Pet Nutrition

"Sement en grys gruisklip gemeng vorm konkreet. Mis in die dikderm met stukkies been vorm ook konkreet."  So sê Dr. Douw van der Nest, veearts in Potchefstroom oor wat gebeur wanneer honde bene eet. Baie mense gee vir hul hond 'n been nadat die braaivleis klaar geëet is. Hoewel honde gewoonlik mal hieroor is, is daar basies geen voedingswaarde in bene nie, maar kan dit eerder 'n hond se lewe in gevaar stel. Van der Nest vertel dat hy gereeld honde moet behandel (in die hospitaal vir dae) wat verstop, oftewel gekonstipeer is omdat hulle bene geëet het.  

Nie net veroorsaak die inname van bene erge konstipasie in honde nie, maar dit kan ook veroorsaak dat 'n hond 'n tandabses kry wat kan lei tot septisemie (bloedvergiftiging). Dit kan 'n hond se dood veroorsaak. 

" ’n Hond se tande is met honderde ligamente vas in die kas. Honde kou bene met hul kiestande en dit veroorsaak dat die tand binne die tandkas wikkel. Dit laat toe dat bakterie tussen die tand en die kas ingaan en veroorsaak dan 'n tandwortel-abses," vertel Van der Nest. 'n Hond se tandwortel is baie lank in vergelyking met die kroon van die tand en gaan, tot amper net onder die hond se oog. Wanneer daar 'n abses ontwikkel bars dit dan oop op die hond se wang. 

Behalwe vir dit is daar ander gevare ook.   "Baie mense sê dat jy eerder vir 'n hond kneukels moet gee. Die probleem is dat kneukels in 'n hond se keel kan afgly en sit dan in die keel vas. "Dit kan veroorsaak dat 'n hond versmoor," se hy.  Van der Nest moes self al sy hand in 'n Bull Terriër se keel af druk om 'n been uit te haal omdat die hond  besig was om te versmoor.

Of die been heel ingesluk word, of fyngekou word, beide het sy gevare aangesien heel stukke in die slukderm by die borskas-ingang of bo die hart en in die derm kan vassiteek wat obstrusie veroorsaak (met die moontlikheidvan penetrasie en lewensbedreigende infeksie), en fyngekoude been nie heeltemal verteer nie en dan gekompakteer in die dikderm vassit wat konstipasie veroorsaak.

Volgens 'n artikel deur die FDA (US Food and Drug Administration) is hierdie waarom  jy nie vir jou hond bene moet voer nie:

  • Bene  kan jou hond se tande breek (Ook is tandfrakture 'n algemene oorsaak van sterftes van karnivore in die Kruger Nasionale Park volgens die tesis van prof. Gerhard Steenkamp.)
  • Dit kan  mond-  en tongbeserings veroorsaak
  • 'n Been kan vassit in jou hond se kakebeen
  • Bene  kan in die slukderm vassit
  • Bene kan in die lugpyp vassit wat kan veroorsaak dat die hond versmoor
  • Bene kan ook in die hond se maag vassit en die hond sal 'n operasie of boonste gastro-intestinale endoskopie moet kry om die been te verwyder
  • Die bene kan ook in die hond sederm vassit wat ook chirurgies verwyder sal moet word
  • Fyn bene in die dikderm kan konstipasie veroorsaak 
  • Dit kan bloeding uit die rektum veroorsaak 
  • Buikvlies-ontsteking kan veroorsaak word wanneer 'n been gate in die hond se maag of derm steek en kan ook dodelik wees vir jou hond.

Vir meer inligting, besoek jou naaste veearts. 

Artikel krediet: Hierdie artikel van Marianke Saayman is eerste gepubliseer op 24 Julie 2018 deur die Potchefstroom Herald.

Related Articles