Aflatoksiene in goedkoop hondekos
Douw van der Nest
Verskeie fungi groei op alle mieliepitte, grondbone en koringkorrels. Die fungi floreer in klammigheid, bv. tydens goeie reën, wanneer gedeeltes van lande nie goed dreineer nie, of as die graan op die sleepwa na die silo of treintrok natreën. Van die metaboliese uitskeidingsprodukte van fungi is aflatoksienes wat skadelik is vir die lewer van mense en honde. Daarom word mielies, grondbone en koring getoets voor benutting en afgegradeer as “unfit for human consumption” as daar meer as 10 dele per biljoen (d.p.b.) aflatoksienes is.
Afgegradeerde, goedkoop graan en grondbone land in goedkoop hondekos.
Effens meer as 10 d.p.b. aflatoksienes in hondekos wat vir ‘n paar jaar gevoer word, veroorsaak kroniese lewerskade met lewersirrose as uiteinde – ‘n hond sterf van “ouderdom” en die eienaar skaf ‘n ander hond aan met dieselfde lot.
Om en by 50 d.p.b. aflatoksienes in hondekos wat vir ‘n maand of wat gevoer is, veroorsaak lewerversaking en dan toon 'n hond anoreksie, braking of geelsug - ten minste 51 honde is dood aan die Oos-Rand gedurende Mei 2011. Lees op die internet van verskeie hondekosse wat oor die jare heen teruggeroep is.
‘n Konsentrasie van 97 d.p.b. aflatoksienes in hondekos wat vir ‘n week of twee gevoer is, veroorsaak lewerskade tot so ‘n mate dat te min bloedstollingsfaktore deur die lewer geproduseer word, en ‘n hond intern doodbloei – hondekos wat by ‘n supermark in Potch aangekoop is in Junie 2011 was die oorsaak dat ‘n Jack Russel-hond (via die gaatjie van ‘n getrekte melktand) homself dood gebloei het oor ‘n periode van 3 dae, aangesien die bloeding nie gestop kon word nie.